Pittsburgh

Pittsburgh

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Pennsilvanië
 Distrik (County) Allegheny
 Koördinate 40°26′N 80°0′W / 40.433°N 80.000°W / 40.433; -80.000
 Gestig op 14 September 1758
 Geïnkorporeer op 22 April 1794
 Oppervlakte:  
 - Totaal 151,1 vk km
 Hoogte bo seevlak 209-367 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2015) 304 391
 - Bevolkingsdigtheid 5 540/vk km
 - Metropolitaanse gebied 2 360 867
 Tydsone Eastern (UTC -5/-4)
 Burgemeester Bill Peduto (D)
 Amptelike webwerf pittsburghpa.gov

Pittsburgh [ˈpɪts.bɚg] is die tweede grootste stad in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië (amptelik: Commonwealth of Pennsylvania) met 'n oppervlak van 151,1 vierkante kilometer en 'n bevolking van 304 391 in 2015. Die stad is die administratiewe setel van die distrik Allegheny en die ekonomiese, kulturele, akademiese en vervoerspilpunt van die metropolitaanse gebied van Pittsburgh met 2,36 miljoen inwoners.

Pittsburgh lê te midde van 'n heuwelagtige en digbeboste gebied en by die samevloeiing van die Allegheny- en Monongahelariviere – twee riviere wat vanaf die punt van die Golden Triangle of sentrale besigheidsdistrik die Ohiorivier vorm. Pittsburgh se stadshorison word oorheers deur wolkekrabbers en tientalle brûe. Ondanks 'n krimpende bevolking is Pittsburgh nog steeds die belangrikste stad in die oostelike Ohioriviervallei, wat danksy sy aantreklike ligging, sy ekonomiese geleenthede, lae lewenskoste en groeiende kulturele, mediese en onderwysinfrastruktuur met 'n hoë lewensgehalte spog.

Allegheny County Courthouse

Vanaf sy stigting in 1758 het die stad 'n reeks omwentelinge ondergaan. Sy eerste noemenswaardige gebou was 'n fort waarvoor George Washington die geskikte bouplek uitgesoek het. Sowat 'n eeu later was Pittsburgh een van die mees geïndustrialiseerde Amerikaanse stede met rokerige nywerhede en ongekende lug- en waterbesoedeling – net om in die 20ste eeu "Roesgordel"-status te behaal as 'n stad van verouderde nywerhede.

Met die agteruitgang van die Amerikaanse staalbedryf in die 1970's en 1980's het die voormalige nywerheidstad 'n nuwe transformasie ondergaan tot 'n sentrum van die mediese, finansiële en tegnologiese bedrywe, terwyl ook onderwys 'n belangrike ekonomiese bedryf geword het. Intussen word Pittsburgh weer as een van die mees leefbare Amerikaanse metropole beskou.

Weens die sukses wat Pittsburgh met sy ekonomiese herstrukturering behaal het, het president George W. Bush na Pittsburgh as Knowledge Town verwys, terwyl The Wall Street Journal die stad as een van die belangrikste markte vir tegnologie aangewys en die bynaam Roboburgh aan hom gegee het.

'n Ander unieke faset van Pittsburgh se stedelike lewe is sy groot verskeidenheid woonkwartiere met hul besonderse atmosfeer en die sterk gemeenskapsin van hul inwoners. Met hul ryk argitektoniese erfenis weërspieël hulle die aspirasies van geslagte van immigrante wat van dwarsoor die wêreld na Pittsburgh gestroom het om van dié stad 'n ekonomiese spilpunt in die Amerikaanse Ooste te maak. Die stad is 'n skatkis van verskillende strukture en boustyle wat van Victoriaans tot Bauhaus, van Goties tot Art Déco en van industrieel tot groen strek.

Die welvaart, wat deur Pittsburgh se nywerhede genereer is, het plaaslike entrepreneurs in staat gestel om hul eie opspraakwekkende en monumentele bydraes tot die stad se boukuns te maak, insluitende twee van die Verenigde State se vernaamste geboue: Henry Hobson Richardson se Allegheny County Courthouse en Frank Lloyd Wright se Fallingwater.[1]

  1. Toker, Franklin (2009). Pittsburgh. A New Portrait. Pittsburgh: University of Pittsburgh Press.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search